Tuesday , September , 25 2018
Palet Kleuterskool Nuus

Leer My Luister deur Arliene van Wyk

Mammas en onderwysers kla graag dat hul kinders nie ore het nie. Dis nie noodwendig omdat hul stout is nie, jou kind het dalk nie die vermoë om te luister nie.

Luister

Dink jy daar is ‘n verskil tussen luister en hoor? Jy is reg, daar is! Om te hoor is eenvoudig die vermoë om klank met jou ore waar te neem. As jy nie gehoorgestremd is nie, is om te hoor iets wat net gebeur. Luister aan die ander kant is iets wat jy bewustelik kies om te doen. Luister verg konsentrasie sodat die brein betekenis aan woorde en sinne gee.

Luister lei na leer
As ‘n kind sukkel om te hoor, sal dit ‘n invloed hê op sy vermoë om te leer praat, verbale taal te ontwikkel en te lees, volgens “Die Slimkoppe-span” (Jarvis, 2012).

Waar begin gehoor?
Die oor word gevorm tussen 4 en 8 weke in utero. Tussen week 24 en 28 in utero ontwikkel die ouditiewe senuwee en vanaf hierdie stadium ontwikkel die persepsie van klank. Eers reageer die oor net op dit wat in utero gehoor word en later selfs op klanke van buite - soos pappa se stem (De Jager, 2012).

Nou waar begin die verwerking van klankherkenning (gehoor) na sinvolle begrip van dit wat ek hoor (luister)?

Alhoewel balans ‘n groot invloed op gehoor het, word die eerste stappe na luister gelê deur die Toniese Labirintiese Refleks (TLR). Hierdie refleks help die baba om sy kop op en af te beweeg. Die TLR is ook die eerste boublok om die liggaam in ‘n regop posisie te kry. D.m.v. die TLR ontwikkel beheer van die kop, die nek- en kernspiere en spiertonus (De Jager, 2012).

Tonies Labirintiese Refleks: agtertoe en vorentoe (De Jager, 2012)

Die TLR implimenteer die skakel tussen die sensories-motoriese stelsel, die emosionele- en die dinkbrein. Die TLR is dus verantwoordelik om balans, koördinasie, postuur en korrekte koppostuur te ontwikkel. Hierdie vaardighede is die begin van STOP en DINK. Dit is eers wanneer die kind kan stop en dink wat hy klanke kan omskakel na iets sinvol. Ek hoor ‘n klank, waar kom dit vandaan en wat beteken dit?

Die luisterproses is gefokus, vrywillig en opsetlik. Dit is ‘n aangeleerde vaardigheid waarby die kind aktief betrokke is. Volgens The English Club se webtuiste (n.d.) impliseer luister dat die boodskap gebruik word. Vir die kind om in aksie oor te gaan en te luister moet hy vanuit die bo-brein (die denkende brein) reageer. Hiervoor is nie net goeie postuur en koördinasie nodig nie, maar ook ‘n gesonde emosionele brein. Eers as die sensories-motoriese stelsel in plek is en die kind na sy oorlewing kan omsien en hy emosioneel veilig voel, sal hy in staat wees om die vaardigheid van luister toe te pas.

Volgens Die Slimkoppe-span (Jarvis, 2012) is ouditiewe persepsie of ouditiewe prosessering die vermoë om aandagtig te luister en om klanke in betekenisvolle dele te orden. ‘n Kind moet aandag gee aan die geluide wat hulle hoor – hulle moet luister. Jou kind moet kan identifiseer waar geluide vandaan kom, kan onthou wat die klanke voorstel, en betekenis aan daardie klanke heg.

Ouditiewe perseptuele vaardighede maak dit vir jou kind moontlik om spraak en taal te ontwikkel, en help hulle om te lees en spel.

Nou waarom het so baie kinders nie “ore” nie?
Blokkasies wat luister kan blokkeer:

  • Eksterne faktore soos ‘n groot trok of sirene wat dit onmoontlik maak om te hoor en te konsentreer
  • Interne faktore soos ‘n kind wat dagdroom; of ‘n moontlike aktiewe refleks.

Wanneer die TLR afwykend is mag dit vir ‘n kind moeilik wees om te luister. Al het hy geen gehoorgestremdheid nie en alle moontlike intensies om te luister, laat sy sensories-motoriese stelsel hom nie toe om te konsentreer en die boodskap te verwerk nie. (De Jager, 2012)

Wat gebeur as die TLR nie gesluit/onderdruk word nie? Die volgende noodseine kan waargeneem word.

  • Lae spiertonus
  • Postuurprobleme
  • Swak kernspierstabiliteit
  • Swak balans
  • Hoogtevrees/karsiek
  • Swak aandagspan/konsentrasie
  • Die lyf is geneig om kopbewegings te volg
  • Sit in W-been posisie
  • Moegheid a.g.v. konstante beweging om gravitasie teen te werk
  • Swak ouditiewe persepsie
  • Vra gedurig “Wat?”
  • Oorsensitief vir hulle harde/skielike geluide
  • Sukkel om die volgorde van instruksies te onthou
  • Praat baie hard
  • Weet nie waar die klanke vandaan kom nie (De Jager, 2012).

Dit is belangrik om probleme so vroeg as moontlik op te tel en aan te spreek. Hoe weet ek alles verloop reg? Die National Baby Centre of the United Kingdom gee op hul webtuiste, Baby Centre (2011), die volgende riglyne as ontwikkelingsmylpale vir gehoor en praat.

‘n Pasgebore baba reageer op Mamma se bekende stem. Vanaf die eerste maand sal Mamma kan onderskei tussen ‘n huil wat beteken ‘ek is honger’ of’ ek is ongemaklik’. Baba praat deur te huil. Later begin baba geluidjies maak en gesels met Mamma deur klankies bymekaar te sit. Daar mag dalk ‘n “baba” of “mamma” uitglip, maar dis blote toeval. Tusssen maand 6 en 9 begin baba om Mamma se klanke te na-aap. Sy gebruik verskillende toonhoogtes en patrone wanneer sy gesels.

‘n Baba met ‘n gehoorprobleem sal vanaf 6 maande ophou om geluide te maak.

Gedragspatrone of reaksies wat ouditiewe prosesseringprobleme kan aantoon:
  1. Hy wil hê dat dieselfde instruksies of nuus herhaaldelik vir hom gesê word voordat hy begin verstaan wat wel gesê is
  2. Dit lyk soms of hy nie hoor of luister nie
  3. Dit lyk of hy dit moeilik vind om te konsentreer
  4. Hy raak verboureerd of geïrriteerd wanneer daar agtergrondgeluide is
  5. Hy reageer asof die geluid hom seermaak of irriteer en kan aggressief word, skree of gil wanneer mens met hom praat; of kan die voorwerpe wat die geluide maak, aanval
  6. Hy prosesseer wel al die dele van die boodskap, maar raak steeds deurmekaar met die volgorde daarvan en die inligting wat dit bevat.

Vestibulêre- en gehoorstimulasie vir baba’s:

  • Dra baba in ‘n “sling”
  • Stoot baba in ‘n stootwaentjie oor verskillende oppervlaktes; beweeg, stop, verander rigting en tempo.

Watter rol kan Mind Moves® in gehoor speel?

By die Mind Moves Instituut (www.mindmoves.co.za ) word daar gefokus op die inhibering van reflekse om leerblokkasies uit die weg te ruim. Indien die TLR nog aktief is, is daar spesifieke Mind Moves oefeninge wat gedoen kan word om die refleks te laat rus en die gehoorstelsel te bedraad.

Enkele Mind Moves wat luister bevorder en die TLR inhibeer (De Jager 2009):

Antennaversteller
Masseer albei oorskulpe gelyktydig van bo na onder met sirkelbewegings.

Die oefening ontwikkel die nabysintuie, ouditiewe prosessering, ouditiewe persepsie en reseptiewe taalvermoë.

Antennaversteller

Helderwakker
Gooi die arms wyd oop en asem diep en stadig in. Kruis dan die arms oor die bors in ‘n omhelsende gebaar, en asem diep en stadig uit. Die ouer kan die kind terselfdertyd van agter af omhels.

Hierdie oefening bevorder ontspanning, ritmiese asemhaling en ‘n gevoel van behaaglikheid.

Helderwakker

Nekdraaier
Staan regop asof die ruggraat ‘n string krale is. ‘Trek’ die denkbeeldige toutjie bo die kop totdat die krale in ‘n reguit lyn hang. Draai die kop stadig so ver moontlik na links en behou die posisie vir agt tellings. Draai dan stadig die kop so ver moontlik na regs, met die ruggraat regop en behou daardie pososie vir 8 tellings. Die heupe en skouers moet vorentoe gedraai wees; net die kop mag beweeg.

Hierdie oefening verlig spanning in die nek en skouers dat die oë vrylik kan beweeg. Dit verbeter ook luistervaardighede, kruising van visuele, ouditiewe en kinestetiese middellyne, liggaamshouding en balans.

Nekdraaier

Ander pret-aktiwiteite:

  • Staan op ‘n balanseerbord
  • Spring trampoline
  • Ry perd
Bronnelys:
- Baby Centre. 2011. Developmental milestones: Hearing. [aanlyn]. Beskikbaar op die internet by: http://www.babycentre.co.uk/a6509/developmental-milestones-hearing (23 April 2013)
- Dangerous Decibels. (n.d.) How do we hear? [aanlyn]. Beskikbaar op die internet by: http://www.dangerousdecibels.org/virtualexhibit/2howdowehear.html (13 Augustus 2012).
- De Jager, M. 2009. Mind Moves – wikkel die brein wawyd wakker. Johannesburg: Mind Moves Institute.
- De Jager, M. 2012. Mind Moves Advanced Instructors Manual. Johannesburg: Mind Moves Institute.
- Jarvis, C. 2004. Ears In Physical Examination and Health Assessment. St Louis. Missouri: Saunders
- Jarvis, J. 2012. Slimkoppe. Kaapstad: CTP Drukkers
- The English Club. (n.d.) What is Listening? [aanlyn]. Beskikbaar op die internet by: http://www.englishclub.com/listening/what.htm (13 Mei 2013)
- The Why Files. (n.d.) How do babies learn language. [aanlyn]. Beskikbaar op die internet by: http://whyfiles.org/058language/baby_talk.html (23 April 2013)
- Wikipedia. 2013. Human voice [aanlyn]. Beskikbaar op die internet by: http://en.wikipedia.org/wiki/Human_voice (23 April 2013)
- Wikipedia. 2013. Klinker. [aanlyn]. Beskikbaar op die internet by: http://af.wikipedia.org/wiki/Klinker (23 April 2013)

Share

Kategorieë
Argiewe
Nuusbrief Inskrywings

Bietjie oor ons
Palet Kleuterskool is ‘n warm en vriendelike tuiste vir elke maatjie. Ons is gevul met entoesiasme en passie vir onderrig. Dit is ons doel om elke maatjie met liefde te aanvaar en met positiewe dissipline hulle karakter te vorm in ‘n Christelike omgewing. Ons beskik oor ‘n goed toegeruste en ruim boomryke 4000m² fasiliteit. In totaal is daar 6 klaskamers met moderne fasiliteite wat in alle opsigte voldoen aan die vereistes gestel deur die betrokke Departemente.
Foto gallery
Kontak ons
*
*